Daar het ‘n ouerige seun met ‘n lang jas voor die bakker gestaan.
“Ons het hom gevang terwyl hy besig was om brood uit die afleweringsvoertuig te steel,” het die voertuig se bestuurder gesê.
Dit was die bakker, die vragmotorbestuurder en die seun wat in die bakkery gestaan het. Die ander werknemers sou enige oomblik daar aankom. Dit was vroeg in die oggend. ‘n Bakkery begin vroeg in die oggend met hul werksaamhede.
“Moet ons die polisie bel?” het die vragmotorbestuurder gevra.
Die bakker het die sak meel van sy skouer afgetel en op die grond neergesit. Hy het na die seun gekyk.
“Ek kan sien dat jy op die straat geslaap het. Is jy honger? Hoe lank slaap jy al op die straat?” het die bakker gevra.
“Ek slaap gewoonlik by die groot slaapsaal op die hoek van Smith en Eerstelaan,” het die seun gesê. Hy het met selfvertroue gepraat. Hy was duidelik nie jammer of bang nie. Die bakker het gewonder of dit ’n valse selfvertroue is. Hy het gewonder of dit ‘n vorm van selfverdediging was.
Die seun was op die meeste sewentien jaar oud. Sy hare en klere was vuil.
“Ek sal nog dink wat om met hom te doen,” het die bakker gesê.
“Gee vir hom ‘n haarbedekking en laat hy sy hande was. As hy wil steel, moet hy betaal vir dit wat hy gesteel het.”
“Maar ek het net een brood gesteel,” het die seun geprotesteer.
“Hoe lank moet ek vir een brood werk?”
Die vragmotorbestuurder het ‘n haarnet oor die seun se hare getrek. Hy het gewys na ‘n teken teen die muur:
“Alle werknemers moet gereeld hul hande was. Gebruik seep en water. Wend aan soos op die instruksies.”
Die seun het onder sy lip probeer stry dat hy nie ‘n werknemer is nie, maar hy het sy hande gewas. Die seep het lekker geruik. Die seep het die taai van sy hande afgewas. Dit was die eerste keer in ‘n paar dae dat sy hande so lekker gevoel en geruik het.
‘n Persoon in ‘n oorpak het plastiekhandskoene oor sy vingers getrek en gewys dat hy na ‘n volgende persoon moet gaan. Daar was masjiene wat die brooddeeg gemeng het. Ander prosesse het weer die deeg geknie het.
Die werknemer het die seun gewys wat hul ingooi om die brooddeeg te maak. Daar was meel, suurdeeg, sout en nog ‘n paar bestanddele. Hy kon nie mooi hoor wat elke bestannddeel doen nie. Te min van die een bestanddeel en brood rys nie hoog genoeg nie. Daar is ook tyd wat verloop tussen die prosesse. As jy te lank knie, val die brood groot gate in. Die bestanddele en die tyd het elkeen ‘n plek en volgorde in die proses.
“Jy kan dit môre doen,” het die werknemer vir die seun gesê.
“Ek werk nie hier nie,” het die seun geskree en uitgehardloop.
Die vragmotorbestuurder het hom weer buite die bakkery voorgekeer.
“As jy dan nie binne wil werk nie, sal jy my moet help met die aflewering,” het die vragmotorbestuurder vir die seun gesê. Hy het nie die seun vir een oomblik gelos nie en het die seun in sy oë gekyk.
Die seun het niks gesê nie en het in die bestuurder se kajuit ingeklim. Hulle het by ‘n sopkombuis gestop, ‘n kleuterskool in die midde-dorp en toe ook by die slaapsaal op die hoek van Smith en Eerstelaan. Die seun het die kratte met die brode op saam met die vragmotorbestuurder afgelaai.
“Daar is niks fout met daardie brode nie. Dis net dat die kliënte net vars brode wil koop. Brode wat ‘n dag of twee dae oud is, is net ‘n bietjie te hard vir die winkels. Ons gaan laai daagliks die brode wat nie verkoop nie weer op by die winkels. Dit is daardie brode wat ons dan tussen die sopkombuise versprei.”
Met die terugkeer het hul die vragmotor gewas. Die oggend was amper verby en die dag het middag se kant toe gestaan.
Die bakker het by die vragmotor ingeloer en vir die seun gesê: “Kom môre-oggend terug. Dieselfde tyd as wat jy vanoggend die brood probeer steel het.”
“Ek laat my nie misbruik nie,” het die seun gebrom.
“Ek werk ook nie vir jou nie. Ek sal maak wat ek wil.”
“Dis regso. As jy nie hier is nie, moet jy maar goed wegkruip, want omtrent al die broodverkopers werk vir my. Ek sal jou wel iewers opspoor.”
Die seun was verbaas en selfs ‘n bietjie bang vir die antwoord van die bakker.
Die tweede dag het hy wel opgedaag. Hy het besluit om nog een dag vir die bakker te werk en dan te verdwyn. Die stad is groot en daar is baie ander woonbuurte. Een van die werkemers het hom verder touwys gemaak. Hy het die bestanddele vir die brood gemeng. Hulle het die tyd dopgehou wat die eerste twee prosesse geneem het. Hy het hierdie keer nie weer saam met die vragmotorbestuurder gery nie.
Die seun het gehelp om nuwe brood te bak. Hy het die hele proses gesien: van die bestanddele, tot by die finale produk in die sakkie.
Teen die tweede middag het die bakker hom nader geroep.
“Besef jy wat jy gister gedoen het?” het die bakker gevra.
“Ek is nie lus vir ‘n les nie,” het die jongman geantwoord.
“Ek wil jou net reghelp. Jy dink dat jy gister ‘n brood by my gesteel het of hoe?” het die bakker vir ‘n verbaaste seun gevra.
“Het ek dan nie?” wou die seun weet.
“Nee, ou seun. Jy het die brood by jouself gesteel. Daardie brood was oppad na die sopkombuise en slaapplekke waar jy jou kos vandaan kry.”
“Jy het die brood by jouself gesteel,” het die bakker gesê en omgedraai.
“Moet ek môre weer kom?,” het die seun agter die bakker aangeskreeu.
Die bakker het gaan staan en in die seun se rigting gekyk.
“Ek het nie tyd vir diewe nie,” het die bakker in ‘n kwaai stem gesê.
“Gaan hoor by die vragmotorbestuurder of hy nog iemand nodig het om met die aflewerings te help.”
“As hy sê dat jy kan bly, moet jy net een ding onthou. Ek het nie tyd vir diewe nie en die diewe wat my die meeste pla, is die diewe wat dinge steel wat reeds aan hul behoort.”
Die vragmotorbestuurder het verbaas gelyk toe die seun voor in die vragmotor in kom klim.
“Die bakker het gesê dat ek hier kan werk as jy iemand nodig het vir die aflewering,” het die seun gesê.
“Dan is die werk joune,” het die vragmotorbestuurder met ‘n glimlag gesê.
“Dan is die werk myne,” het die seun gefluister terwyl die afleweringsvoertuig by die hek uit ry.
“Ek sal maar help met die aflewerings,” het hy by homself gedink, “want ‘n dief wat by homself steel, is seker nie ‘n goeie dief nie.”
________________________________
Kopiereg voorbebou
________________________________
Metafore gebruik: Jesus as ewige brood / Koninkryk van God as suurdeeg / Jesus as seep
