“Is jy eerste ‘n soldaat of eerste ‘n dokter?”
Die hospitaal was ‘n tent in die middel van ‘n oorlogsone. Daar was ‘n duidelike kruis op die tent geverf. Die kruis was rooi geverf volgens konvensie, maar die tent was ‘n ver ent van Geneve af en die lyne van die oorlogsone was nie vas nie.
“Is jy eerste ‘n soldaat of eerste ‘n dokter?” het die man op die bed weer geprewel.
“Hoekom is dit belangrik? Ek is hier om jou te help,” het die man met die wit jas gesê.
Daar was geweerskote buite die tent. Gelukkig was dit ver van hulle af, maar die omgewing het die geluid laat weergalm. Die soldaat was al gewoond aan die geweerskote. Die dokter was ook al lank daar en het agter die tentmure weggekruip asof dit van bakstene gemaak is. Die partisie van ‘n stukkie materiaal tussen pasiënte het dieselfde sielkundige waarde as die canvas lap van die tent.
“Jou wonde lyk nie goed nie,” het die man met die wit jas gesê.
“Ek gaan jou nou verdoof en die wonde toewerk.”
Die soldaat op die stretcher het egter die wit jas se mou vasgegryp en met ‘n bleek gesig gepraat:
“Ek sal eerder uitbloei as jy nie my vraag antwoord nie. Ek wil weet of jy eerste ‘n soldaat of eerste ‘n dokter is.”
“Miskien moet jy eerder vir my vertel of jy eerste ‘n pasiënt of eerste ‘n soldaat is,” het die man gevra terwyl hy sy jas se mou uit die greep van die man op die stretcher probeer los skeer het.
“Ek is bly jy vra dit,” het die man op die stretcher geantwoord.
Sommige mense word opgeroep om te veg. My skoolmaat was so ‘n opgeroepte soldaat. Hy is direk van die skoolbanke af opgeroep. Hy het goed gevorder en was ‘n offisier na die eerste jaar. Dapper en slim. Dit is ‘n goeie kombinasie vir ‘n soldaat om te hê. Jy wil nie halsoorkop in die spervuur inloop nie, maar ‘n soldaat wat bang is, is eintlik gevaarlik vir beide homself en sy peleton. My ou skoolmaat veg nou aan die oostelike linie van ons magte. As alles volgens plan verloop, sien ons hulle voor die einde van die jaar.
Daar is natuurlik ook mense wat self aanmeld om te veg. Sommige doen dit omdat hul in ’n militêre familie grootgeword het. Hulle wil graag in hul ouers se voetspore volg.
“Ek gaan nou aanbeweeg,” het die man in die wit jas gesê.
“Laat my weet as jy besluit het om saam te werk.”
Die verpleërs het die man gemaklik probeer maak. Hulle het die wonde so goed as moontlik probeer behandel, maar die dokter moes steeds die wonde op die regte manier toewerk, sodat die herstelproses kon begin. Die geweervuur is vervang deur stilte. Die stilte was gewoonlik die besigste tyd vir die tent met die kruis op. Tussen die geweervuur en bomme het die gewondes hulle wonde laat verbind. Die stilte was natuurlik bedrieglik of miskien ‘n bedreiging van ‘n ander soort – nie alle wonde is op die oppervlak van die vel nie. Die vyand het geweet dat die tenthospitaal ‘n plek sou wees waarheen ‘n mens stroom gedurende die stilte.
Die man in die wit jas het weer by die man op die stretcher kom staan en het hom gevra:
“Waarom wil jy so graag weet of ek eerste ‘n soldaat of eerste ‘n dokter is?”
Die man op die stretcher het sy mond oopgemaak om te praat en toe weer toegemaak. Hy het weggekyk voordat hy sy antwoord gegee het:
“Ek wil weet omdat ‘n soldaat my sal herstel sodat ek weer kan veg. ‘n Dokter sal my probeer herstel sodat ek sal lewe, maar vir ewig behandeling nodig sal hê.”
Die man met die wit jas het afgebuk en in die man op die stretcher se oor gefluister.
“Dan is dit reg. Heg asseblief my wonde,” het die man op die stretcher laat weet.
Die operasie het meer as ‘n uur geduur. Alles het mooi verloop en die soldaat was na twee weke weer op die been. Daar sou nog ‘n lang herstelproses voorlê, maar hy het sommige van sy pligte as soldaat hervat.
Met sy ontslag het die dokter sy hande in sy wit jas se sak gedruk en gesê:
“Alhoewel ek kan aflei het jy my nooit vertel wat jy is nie: pasiënt of soldaat.”
“Ek is ‘n soldaat. Somtyds verdedig ek. Somtyds val ek aan. Somtyds luister ek na die bevelvoerder se opdragte en ander kere moet ek self besluite neem wat ek voel die goedkeuring van die bevelvoerder sal wegdra.”
Die dokter het sy hand uitgesteek asof hy hom wou groet, maar het die soldaat nader getrek en soos tevore in sy oor gefluister.
Daardie aand het die dokter vir sy kollega in hul tent die storie vertel. Die pasiënt-soldaat het hom laat dink. Hy het hom vir die eerste keer in ‘n lang tyd laat dink.
“Oor jouself?” het sy kollega gevra.
“Oor myself, oor die hospitaal en oor die oorlog.”
“Wat maak jou ‘n soldaat? Is dit omdat jy veg of omdat jy verdedig? Is dit omdat jy ‘n swaard of skalpel vashou?”
Die dokter het na sy kollega gedraai. Hy het sy gesig in ‘n skottel gewas. Die dag se gebeure moes in die water van die wasskottel agterbly.
Die geluide van die oorlog het steds om hul gewoed: bomme en geweervuur. Die klank van tenks wat die aarde plat trap en vliegtuie wat van ver af nader vlieg en oor die lyne beweeg. Die canvas tente se sypanele het mure geword. Mure van beton met ‘n partisie tussen binne en buite.
“Wat het jy vir die pasiënt gefluister voor die operasie?” het die kollega gevra.
“Ek is wat jy is,” was al wat ek gesê het.
“En tydens sy ontslag?”
“Ek het die masker wat ek tydens sy operasie gedra het in sy hand gestop en gesê: Jy het my ‘n soldaat kom maak”
——————————————————————-
Kopiereg voorbehou
——————————————————————–
Metafoor: God as krygsman of soldaat / Die Woord as swaard