Metafore oor leierskap – Leiers as pilare

In Galasiërs 2:9 staan daar: “Toe hulle dan ingesien het dat God my hierdie voorreg gegee het, het Jakobus, Sefas en Johannes, wat beskou is as die pilare van die gemeente, my en Barnabas die regterhand gegee as teken dat ons en hulle medewerkers is. Ons het ooreengekom dat hulle die evangelie aan die Jode sou verkondig, en ons aan die nie-Jode. “


Kom ons gesels oor die metafoor: leiers as pilare. Wat is leiers en wat is pilare? En hoekom word hulle met mekaar vergelyk? Pilare word in geboue gebruik om die dak bo te hou of te ondersteun. Pilare word in brûe gebruik om die brug te ondersteun. Wanneer die pilare nie sterk is nie, val die brug inmekaar. Wanneer die pilare op die verkeerde plek is, val die dak inmekaar. Pilare beïnvloed dus die dak en die brug.

Jakobus, Sefas en Johannes was die pilare in hulle gemeente of kerk. Hulle het dus seker gemaak dat belangrike dinge genoegsaam ondersteun word.

Maar wat is leiers en leierskap? Leiers maak seker dat iets staande bly. ‘n Dak beskerm ons teen die reën en die sneeu. ‘n Brug verbind twee kante of oewers van ‘n rivier. Net so maak ‘n leier seker dat die mense wat die geestelike dak verskaf ondersteun word en die geestelike oewers aan mekaar verbind bly.

Hoe verskil geestelike leiers van ander leiers? Dit gaan oor die dinge wat jy ondersteun. Geestelike leiers ondersteun geestelike dakke en geestelike brûe.

Waar leer ons van leiers en leierskap? Ons leer dikwels daarvan wanneer ons sport beoefen en ook op skool. Elke span het ‘n kaptein en elke klas het ‘n klaskaptein. Wanneer ons ouer word, verander die kapteine in bestuurders.

Dit bring ons by die manier hoe leiers na vore tree. Somtyds word leiers verkies as gevolg van gewildheid of sekere eienskappe waaroor hul besit. Ander kere tree leiers na vore deur hul voorbeeld. ‘n Mens hoef nie verkies te word om ‘n leier te wees nie. Leiers tree na vore waar hul sien die dakke inmekaar val. Geestelike leiers daag op waar hul ‘n gaping vir ondersteuning sien.

Om te terug te keer na die pilare:
Kan jy aan nog soorte pilare dink?
Ons het reeds oor pilare gepraat wat geboue ondersteun en wat brûe ondersteun. Daar is ook pilare wat net vir die mooi of estetiese eienskappe gebruik word. Ek noem hulle dekoratiewe pilare. ‘n Mens sien hulle in parke of in tuine. Dit word gebruik om die tuin mooi te laat vertoon, maar dit dien geen doel nie. Ongelukkig is daar ook dekoratiewe leiers. Hulle doel is slegs om mooi te lyk.

Dit sal jou miskien interesseer om te hoor dat Christene as pilare in God se koninkryk beskryf word. In Openbaring 3:12 staan daar dat ons as Christene eendag pilare in God se tempel sal wees . Ons kry dus die geleentheid om ons geestelike leierskap op aarde uit te leef met die doel om ‘n pilaar in die hemel te wees. Pasop om nie ‘n dekoratiewe pilaar in God se koninkryk te wees nie.

Dink vandag en hierdie week oor die soort leier wat jy vir jou gesin, by jou werk, jou klas en by jou vriendekring is. Daar is baie geestelike dakke en brûe in jou omgewing wat ondersteuning nodig het. Elke gesin, werkplek en vriendekring het geestelike leierskap nodig.

Please follow and like us:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *